AfriForum se Oos-Moot-buurtwag help om verdagte vas te trek


AfriForum se Oos-Moot-buurtwag het op Saterdag 1 Junie 2019 in samewerking met die SAPD, Kilnerpark Sekuriteit en die Tshwane Blitspatrollie ’n verdagte vasgetrek wat vermoedelik ’n TV gesteel het. Die TV-eienaar het die diefstal by ’n lid van die Oos-Moot-buurtwag aangemeld.

Die verdagte is met die gesteelde televisie in sy besit in ’n stormwaterpyp aangekeer. Die eienaar van die TV het die verdagte positief uitgeken en die verdagte is daarna deur die SAPD in hegtenis geneem.
Volgens Andries Opperman, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag, werp die samewerking tussen die verskillende organisasies vrugte af.

“Die oomblik toe die saak onder die buurtwag se aandag gebring is, het almal baie vinnig gereageer om die verdagte vas te trek. Die buurtwag het in samewerking met die betrokke organisasies die spruit gefynkam waarheen die verdagte vermoedelik gehardloop het en ons kon hom daar met die gesteelde TV aankeer.
“Die krag van ’n gemeenskap wat saamstaan, is onstuitbaar. Ek wil my opregte dank uitspreek teenoor die buurtwaglede, sekuriteitspersoneel en die polisie, wat bereid is om die gemeenskap onbaatsugtig te dien,” voeg Opperman by.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, moedig ook gemeenskapslede aan om by bestaande strukture betrokke te raak en ’n  positiewe verskil in hul omgewing te maak.

“Die buurtwag se sukses is alles te danke aan die aktiewe betrokkenheid van vrywilligers in hul omgewing. Die gemeenskap neem verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid, wat ’n groot rol speel om misdaad hok te slaan.”

Raak vandag aktief by jou gemeenskap se veiligheid betrokke: SMS “Oos-Moot” na 45341 (R1) of stuur ’n  e-pos na Andries Opperman by aharlekyn@gmail.com.

Soortgelyke plasings