| |

AfriForum se Oos-Moot-tak tree vinnig op ná noodboodskap

AfriForum se Oos-Moot-tak het op 23 Februarie 2020 ’n noodboodskap op hulle telegramgroep ontvang. ’n Verdagte was besig om een van die taklede se voertuig met klippe te bestook en het aggressief opgetree.

Lede van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag het op die boodskap reageer, die polisie ontbied en die verdagte agtervolg ná hy van die toneel gevlug het. Sewe buurtwagvoertuie en tien lede het hom bly agtervolg tot by die spruit in Louis Trichardstraat, vanwaar hy in ’n stormwatersloot probeer ontsnap het. Die buurtwaglede het die verdagte se bewegings voortdurend aan die polisie deurgegee.

Die verdagte is uiteindelik by 23ste Laan en Hertzogstraat aangekeer, en ’n konstabel van die Moot-polisiestasie het hom in hegtenis geneem. ’n Klag van saakbeskadiging en betreding is teen die verdagte aanhangig gemaak.

“Ons is trots op die gedugte span Oos-Moot-buurtwaglede wat so besonders vinnig en professioneel gereageer het en vir ongeveer 4 km ver op die verdagte se hakke gebly het. Ons is ook dankbaar vir die ondersteuning wat ons van die Metro en KPS ontvang het,” sê Andries Oppermann, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Oos-Moot-tak.

 

“Die Oos-Moot-buurtwag se flink optrede bewys dat hulle vasberade is om misdaad in hul gemeenskap te bekamp. Baie dankie aan al die buurtwaglede wat hul eie tyd opoffer om van die gemeenskap ’n veiliger en beter plek te maak,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Soortgelyke plasings