|

AfriForum se Oos-Moot-tak verwyder riool te midde van staking

Die AfriForum-tak in Oos-Moot het op 30 Julie twee loodgieters ontbied om rioolmangate in Waverley skoon te maak. Dít volg nadat inwoners in dié gebied AfriForum genader het met klagtes oor onverwerkte riool wat hul erwe op sommige plekke oorspoel.

Instandhoudingswerk in die Tshwane-metro word tans vertraag weens munisipale werkers se staking oor ’n loondispuut en dus word daar nie onmiddellik aandag aan inwoners se klagtes gegee nie. Onverwerkte riool hou verskeie gesondheidsrisiko’s vir inwoners in en vloei soms vir dae aaneen uit die mangate. Die metro het egter nog geen poging aangewend om die probleem op te los nie.

“Dit is vir die gemeenskap ’n groot frustrasie as hulle geen reaksie kry wanneer hulle probleme aanmeld nie. Dit is waarom dit belangrik is om by AfriForum se strukture aan te sluit sodat ons hierdie probleme saam kan oplos,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“AfriForum sal aanhou om probleme in gemeenskappe aan te pak en die nodige druk toe te pas om te verseker dat die probleme nie weer ontstaan nie,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Nel en Steinberg het Japtrap Loodgieters en LekWeg Loodgieters bedank vir hul bystand op kort kennisgewing.

Raak vandag nog by AfriForum se Oos-Moot-tak betrokke en word deel van die oplossing: SMS “Oos-Moot” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings