AfriForum se Oos-Rand-takke stel uitslae van vullisterreinoudit bekend


Die burgerregte-organisasie AfriForum het in Maart 2019 vullisterreine in die Oos-Rand geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal.

Dié oudit meet vullisterreine in dorpe waarin daar gevestigde AfriForum-takke is aan die hand van 32 vrae meet. ’n Vullisterrein moet 80% behaal om aan die gestelde standaarde te voldoen en die meeste van die Oos-Rand se vullisterreine het die oudit geslaag.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies – onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wet no. 59 van 2008) – moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen, wat faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie insluit.
AfriForum het 117 vullisterreine in 2019 geoudit. Dié uitslae sal in ’n verslag opgeneem en aan die departement van omgewingsake oorhandig word.

“Ons is dankbaar vir die departement se samewerking en dat die provinsiale afvalbestuursbeamptes hul oudits aan ons beskikbaar gestel het,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se woordvoerder vir die ouditprojek.

Só het die Oos-Rand se vullisterreine presteer:

  2018 2019
Dorp Vullisterrein Persentasie
Alberton Platkop 97% 97%
Boksburg Rooikraal 97% 97%
Brakpan/Benoni Weltevreden 97% 94%
Germiston Simmer and Jack 100% 78%
Springs Rietfontein 86% 88%

 

“Die groot vullisterreine word goed bestuur en dit is verblydend om te sien dat dit ook op ’n hoë standaard onderhou word. Ons sal egter die afname in die prestasie van die Simmer and Jack-vullisterrein ondersoek, aangesien ’n nuwe kontrakteur intussen daar aangestel is. Hierna gaan ons fokus na die bestuur van die kleiner terreine en die oorlaaistasies in die Oos-Rand verskuif,” sê Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Na afloop van die projek gaan AfriForum in samewerking met ’n afval-tot-energie-maatskappy ’n alternatiewe plan vir vullisterreine in Suid-Afrika ondersoek. Soortgelyke projekte is uiters suksesvol in ander lande. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine wat te kort skiet op standaard gebring word.
Sluit vandag by AfriForum aan: SMS “Vullis” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings