AfriForum se Oos-Rand-takke woon Streeksberaad van Hoop by

Die bestuur van AfriForum se Oos-Rand-takke het die afgelope naweek AfriForum se Streeksberaad van Hoop by die Royal Elephant Hotel in Centurion bygewoon. Die doel van dié beraad was om in samewerking met al die AfriForum-takbestuurslede in die noordstreek aan praktiese planne vir die toekoms te werk en almal op hoogte te bring van al die jongste verwikkelinge binne die burgerregte-organisasie.

Die tema vir vanjaar se beraad was #VegEnBou. Nagenoeg 54 bestuurslede van die Oos-Rand-takke en 250 lede verbonde aan 72 ander takke het dit bygewoon.

AfriForum se afdelingshoofde het beraadgangers oor sake in hul onderskeie afdelings ingelig, naamlik gemeenskapsveiligheid, plaaslikeregeringsake, die jeug en die uitbreiding van AfriForum se konsentrasiestrategie. Voorleggings is tydens wegbreeksessies gedoen en die takbestuurslede kon hier vrae vra en insette lewer rakende plaaslike selfbestuur, die strategie rondom konsentrasie, gemeenskapsveiligheid en die toekoms van ons kinders.

“Dit is verblydend om te sien dat soveel van ons takbestuurslede, veiligheidspanne en ander betrokkenes bereid is om hulle tyd af te staan en deel te wees van ’n organisasie wat daadwerklik ’n verskil in Suid-Afrika probeer maak,” sê Marié Naudé, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, gee ’n oorsig oor die beraad in hierdie video:
https://afriforum.co.za/afriforum-streekberaad-beklemtoon-belangrikheid-van-vrywilligers/

Raak vandag nog in jou gemeenskap betrokke: SMS “Skep hoop” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings