| |

AfriForum se Orkney-buurtwag styg bo omstandighede uit

Die AfriForum-buurtwag in Orkney is sedert die inperking onverpoosd besig om kospakkies saam te stel en uit te deel, veral aan gesinne wat hul werk weens COVID-19 kwyt is. Ongeveer 58 gesinne word reeds só ondersteun. Slegs die grootste nood word nou verlig omdat daar eenvoudig nie genoeg voorraad vir almal beskikbaar is nie.

Al die voedsel wat vir kospakkies gebruik word, is skenkings – die buurtwag ontvang gereeld kos of geld wat hulle kan gebruik om kospakkies saam te stel. Die gemeenskap kry veral swaar omdat twee van die dorp se myne vir drie maande gesluit is en die Harmoniemyn slegs teen 50% kapasiteit funksioneer. Dit beteken dat 8 000 mense in Orkney tans werkloos is. Talle van die buurtwaglede is self sonder werk, maar hulle hou aan om na die om te sien wat nóg minder het.

“Ten spyte van die slegte situasie waarin Orkney-inwoners hulle tans bevind, maak dit my so dankbaar dat mense wat self nie oorvloed het nie steeds aan ander uitdeel. Ek wil baie dankie sê aan die buurtwag en die inwoners van Orkney. Ek is oortuig daarvan dat hulle die Bybelse opdrag reg verstaan,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Word deel van hierdie projek: Kontak vir Joanita Labuschagne by 061 506 4260 of Bevin Ford by 079 885 4746.

Soortgelyke plasings