|

AFRIFORUM SE OUDTSHOORN-BUURTWAG NEEM DEEL AAN NASIONALE MASSAPATROLLIE

AfriForum se Oudtshoorn-buurtwag het op 30 Julie 2021 aan dié burgerregteorganisasie se nasionale patrollie deelgeneem. Die buurtwag het saam met verskeie veiligheidsinstansies, sekuriteitsmaatskappye, die polisie, die plaaslike sakekamer en taxiverenigings gewerk om verhoogde sigbaarheid, kommunikasie, samewerking en mobilisering te bewerkstellig. AfriForum se landswye massapatrollies vind drie maal per jaar plaas.

Sowat 50 persone in 27 voertuie het deelgeneem. Die konvooi het ’n roete gery wat deur al die woonbuurte van die dorp kronkel. Woonbuurte waar die patrollie gehou is, sluit onder meer in Rooiheuwel, Volmoed, Oudtshoorn-Noord en Wesbank. Na afloop van die patrollie het die patrolleerders ’n koppie koffie en ’n worsbroodjie ontvang wat geskenk is deur Beans About Coffee en die Oudtshoorn Spar. Chris Macpherson, die burgermeester van Oudtshoorn, het die patrolleerders bedank vir die inisiatief en sy wens uitgespreek dat dit sal lei tot uitstekende samewerking tot voordeel van die hele gemeenskap.

Hendrik Kotze, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak, het die buurtwaglede vir hulle onbaatsugtige diens bedank. “Ons sien met projekte soos dié hoe gemeenskappe, binne die raamwerk van die wet, eienaarskap neem van hulle eie veiligheid en doelgerig ’n netwerk van samewerking vestig om op só ’n manier hulle voorspoedige voortbestaan te verseker.”

Om by AfriForum se veiligheidstrukture in Oudtshoorn aan te sluit, SMS “Veilig” na 45353.

Soortgelyke plasings