|

AfriForum se Oudtshoorn-tak stig buurtwag

Die AfriForum-tak in Oudtshoorn het op 27 Oktober ’n buurtwag gestig ná verskeie vergaderings met rolspelers binne die dorp en sy omliggende landelike gebiede.

In byna alle gebiede is daar reeds voorheen gewerk om veiligheid te bevorder, maar daar was ’n behoefte aan koördinering, opleiding en struktuur. Dit is juis wat AfriForum sy lede bied.

Verteenwoordigers uit Oudtshoorn-Noord, Wesbank, Oudtshoorn-Sentraal, Rooiheuwel, Volmoed, Lategangsvlei en Cangovallei, asook die plaaslike polisie het die stigtingsvergadering bygewoon.

“Hierdie stigting is die produk van vele gesprekke en ’n dringende behoefte om ons gemeenskap te beveilig. Ons is baie dankbaar vir almal se goeie gesindhede en sien regtig daarna uit om die pad saam met almal te stap,” sê Johan Conradie, voorsitter van  AfriForum se Oudtshoorn-tak.

“Misdaad in Suid-Afrika is buite beheer. Dit is tyd vir gemeenskappe om in te spring en verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te aanvaar. Ons nooi almal uit om deel te raak van hierdie veiligheidstruktuur en om deel te wees van die oplossing,” sê David Olivier, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder.

“AfriForum en sy lede dien gemeenskappe op verskeie maniere. Veiligheid is ’n belangrike komponent daarvan. Ons eer graag die manne en vroue wat hul eie tyd en hulpbronne hiervoor aanwend. Ons sien uit na goeie en vrugtevolle samewerking met ons plaaslike SAPD, plaaslike regering en ons vriende in die sakegemeenskap. Saam is ons sterker,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Raak vandag nog by AfriForum se Oudtshoorn-tak betrokke: SMS “Oudtshoorn” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings