AfriForum se Overstrand-tak nader Menseregtekommissie tydens onluste


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Overstrand-tak het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) versoek om as bemiddelaar op te tree ten einde die onluste wat tans in Zwelihle, Hermanus plaasvind, te ontlont.

“Die regering het die gemeenskap van Zwelihle reeds in 2005 behuising belowe. Nadat dit onlangs aan die lig gekom het dat slegs ’n klein persentasie van die behuising wat beskikbaar gestel is vir plaaslike inwoners beskikbaar sou wees, het die inwoners hul ontevredenheid bekend gemaak met ’n aanvanklik vreedsame opmars na die munisipale kantore, waarna onluste uitgebreek het,” sê Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Kaap.

Thomas van Dalen, AfriForum se opleidingsbestuurder vir gemeenskapsveiligheid, het ’n versoek aan Chris Nissen, menseregtekommissaris, gerig toe hy besef dat die munisipale raad en munisipaliteit geensins verder met die gemeenskap van Zwelihle kommunikeer of ’n poging aanwend om die situasie te ontlont nie.
Nissen het gesprekke met onder andere die burgemeester en munisipale amptenare gevoer, asook gisteraand nagenoeg 4 000 mense in Zwelihle toegespreek, waarna gemoedere aansienlik kalmeer het. Gesprekke duur vandag voort om ’n sinvolle oplossing te probeer vind. AfriForum sal die situasie deurlopend moniteer.
Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag of -plaaswag betrokke: SMS “Veiligheid” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings