| | |

AfriForum se Overstrand-tak skenk skolehulppakkette

AfriForum se Overstrand-tak het op 1 Junie 2020 skolehulppakkette aan twee skole in die Overstrand-omgewing voorsien as deel van die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek wat in samewerking met AfriForum Jeug van stapel gestuur is. Hoërskool Hermanus en Northcliff House College in Onrus het dié pakkette ontvang om hulle te help om vir heropening gereed te maak.

Die skolehulppakkette bevat weggooibare maskers en patrone vir gesigmaskers, ’n inligtingsgids oor COVID-19, klaskamerplakkate, ’n elektroniese koorsmeter, ’n staander met handreiniger en botteltjies handreiniger. Die waarde van elke pakket beloop R6 500.

“Die Overstrand-tak is bewus van die geweldige uitdagings wat skole tans in die gesig staar wat betref die hervatting van die 2020 akademiese jaar. Daarom is dit belangrik om projekte soos hierdie aan te pak om te verseker dat personeel en leerders veilig kan terugkeer skool toe,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak. Dra vandag nog tot die tak se taknoodfonds by om ’n verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Overstrand” na 45265 (R1).

Soortgelyke plasings