|

AfriForum se Overstrand-tak skep ’n groener toekoms tydens boomplantmaand

Die AfriForum-tak in Overstrand-tak het op Vrydag 30 September 16 inheemse bome, in samewerking met Stanford Garden Club, Riverland Garden Centre en Overberg Agri voor die Stanford kliniek, brandweerstasie, en die gemeenskapsaal in Bezuidenhoutstraat, geplant.

Dié organisasies het onder meer vyf soetdoringbome (Vachellia karroo), vyf koorsbome (Vachellia xanthoploea) en ses wildepruimbome (Harpephylum caffrum) geplant. Leerlinge van Laerskool De Bron en Laerskool Okkie Smuts in Stanford het gehelp om die bome te plant.

“Die algemene boom van die jaar is die Vachellia karroo – oftewel die soetdoring – en ons het dit goed gedink om ook van hierdie bome te plant vir ons jaarlikse boomplantmaandprojek. Ons wil elkeen bedank wat ’n bydra gelewer het tot hierdie fantastiese projek. Ons sien uit om soortgelyke projekte in die toekoms aan te pak,” sê Janita van Niekerk, bestuurslid van AfriForum se Overstrand-tak.

“AfriForum vier boomplantmaand jaarliks in September. In dié maand word die publiek oor die belangrikheid van bome ingelig en aangemoedig om bome te plant as ’n praktiese en simboliese gebaar van volhoubare omgewingsbestuur,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland. “Ons wil graag gemeenskappe aanmoedig om in hul eie areas ook bome te plant om sodoende te help bou aan ’n groener toekoms.”

Die tak moedig die gemeenskap aan om by soortgelyke projekte van hulle betrokke te raak en deel te word van ’n vooruitstrewende en groener toekoms. SMS “Overstrand” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings