|

AfriForum se Parys-tak vat verval vas

Die AfriForum-tak in Parys het in September meer as 4 ton teer gebruik om slaggate in die eens pragtige dorp te herstel. Die strate in Parys is in ’n haglike toestand en daarom het die plaaslike AfriForum-tak ingespring om ’n verskil te maak. Motoriste ly baie skade weens die slaggate waarvan sommige besonder diep en gevaarlik is.

Die gehawende toestand van die verkeerstekens maak die paaie in Parys ook onveilig. Veral besoekers aan die dorp kan maklik ’n stopteken verontagsaam omdat hul nie die teken duidelik kan sien nie. Hier het die AfriForum-tak ook ingespring en die tak het reeds drie onduidelike stoptekens met nuwe, sigbare tekens vervang.

“Dit is uiters noodsaaklik dat inwoners eienaarskap van hul dorpe begin neem omdat die meeste munisipaliteite glad nie meer hul funksies verrig nie. Dit plaas wel ’n dubbele las op die inwoners, maar ’n mens kan ook nie toesien dat alles om jou vergaan en jou eie veiligheid in gevaar stel nie. Dit is egter baie duur en inwoners wat donasies wil maak vir hierdie goeie saak kan gerus met Fanie Kruger by 072 989 0901 in verbinding tree,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Parys” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings