AfriForum se Phalaborwa-buurtwag en SAPD arresteer verdagte

 

Danksy die paraatheid van AfriForum se Phalaborwa-buurtwag is ’n verdagte tydens ’n roetinepatrollie gearresteer. Dít volg nadat die buurtwag onraad vermoed het toe hulle beweging by ’n verlate huis opgemerk het.

Die buurtwag het in samewerking met die SAPD by nadere ondersoek ’n verdagte wat vermoedelik met verskeie misdrywe verbind word, gearresteer. Tydens die arrestasie is daar beslag gelê op sowel dwelms as toerusting wat vermoedelik by ander misdrywe gebruik is.

“Ek wil dankie sê aan al die lede wat hul persoonlike tyd opoffer om die gemeenskap ’n veiliger plek vir almal te maak. As die gemeenskap saamstaan en saamwerk kan ons werklik ’n groot verskil maak,” sê Cobus Louw, voorsitter van AfriForum se Phalaborwa-buurtwag.
“Hierdie is die perfekte voorbeeld van wat vermag kan word indien die belangrikheid van gemeenskapsveiligheid ’n prioriteit vir gemeenskapslede is. Die veiligheid van ’n gemeenskap kan slegs verbeter indien die gemeenskap die polisie bystaan in die bekamping van misdaad,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Veilig” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings