| | |

AfriForum se Phalaborwa-tak skenk voedsel en skolehulppakket

Die AfriForum-tak in Phalaborwa het die gemeenskap tydens die COVID-19-pandemie reeds op verskeie maniere ondersteun en het die afgelope tyd sowel kospakkies as skolehulppakkette geskenk.

Die tak het op 5 Julie 2020 300 kospakkies aan behoeftige gesinne geskenk. Die tak het besef daar is ’n groot voedselnood in die gemeenskap en het kospakkies by die plaaslike Pick n Pay laat opmaak om die nood te help verlig. Elke gesin het vyf pakkies ontvang met genoeg voedselvoorraad vir ongeveer ’n maand.

“Ons is dankbaar dat ons die gemeenskap in hierdie onsekere tye kan help en moedig mense aan om by projekte soos dié betrokke te raak,” sê Hardus Fourie, voorsitter van AfriForum se Phalaborwa-tak.

Die tak het ook op 6 Julie 2020 ’n hulppakket aan die Frangipani Dagsorgsentrum vir Gestremdes geskenk. Dié pakket bestaan uit vyf liter handreiniger, ’n handreinigerstaander en ’n termometer.

“Ons wil die sentrum graag met hierdie pakket help sodat die personeel en leerders teen die opdoen van die virus beskerm kan word,” sê Magdel Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Raak by AfriForum se Phalaborwa-tak betrokke: SMS jou naam na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings