AfriForum se Piet Retief-buurtwag hou sigbaarheidspatrollie


Vrywilligers van die AfriForum-buurtwag in Piet Retief het op die aand van 22 Februarie 2019 aan nóg ’n suksesvolle sigbaarheidspatrollie deelgeneem. Die plaaslike stasie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het veertien van hul lede vir die patrollie beskikbaar gestel en vyf verkeersbeamptes het ook deelgeneem.

Tydens dié patrollie het ’n konvooi elke sektor in Piet Retief besoek en die SAPD kon verskeie arrestasies uitvoer, waaronder vier vir dronkbestuur en twee vir die onwettige besit van 22,4 kg dagga. Verkeersbeamptes het nege boetes uitgereik: ses boetes vir bestuur sonder ’n lisensie, twee boetes vir ongelisensieerde voertuie en een vir ’n bestuurder wat ’n rooi verkeerslig verontagsaam het.

“Dit is vir ons belangrik om hierdie inisiatief gereeld uit te voer om voortdurende sigbaarheid in die gemeenskap te verseker en om kriminele aktiwiteite in ons dorp te beperk,” sê Gerhard Böhmer, voorsitter van AfriForum se Piet Retief-buurtwag. “Die gemeenskap se insette en hulp word hoog op die prys gestel en kan tot almal in Piet Retief se veiligheid bydra.”

Soortgelyke plasings