|

AfriForum se plaas- en buurtwagte in Limpopo hou padblokkades

AfriForum se Matlabas-Suid-plaaswag in Thabazimbi en Matlabas-Noord-plaaswag in Ellisras, asook AfriForum se Ellisras-buurtwag het die afgelope twee weke ’n massa-aksie in samewerking met hul onderskeie SAPD-stasies gehou.

Verskeie plaas- en buurtwaglede het by ses van die belangrikste toegangsroetes tot die gebied saam met vyf SAPD-stasies padblokkades opgestel. Tydens hierdie aksie is voertuie afgetrek en deursoek, en lisensies en registrasies is gekontroleer. Alle optredes is binne die raamwerk van die wet uitgevoer.

Altesaam 171 voertuie is afgetrek en vier boetes is uitgereik. 69 plaas- en buurtwaglede en 12 SAPD-lede het aan die aksie deelgeneem.

Die Matlabas-Suid-plaaswag het op 18 Julie aan ’n opvolgpadblokkade saam met die SAPD deelgeneem. Tydens hierdie aksie is drie boetes uitgereik en ’n onwettige immigrant is in hegtenis geneem. Pieter Lambrecht, voorsitter van AfriForum se Thabazimbi-tak, bedank al die plaaswaglede en SAPD-lede wat deelgeneem het vir hul tyd en opoffering.

Marcel de Villiers, voorsitter van AfriForum se Steenbokpan-plaaswag, bedank die SAPD vir hul professionele hantering van die padblokkade en die wyse waarop daar met die gemeenskap saamgewerk is. “Albei die plaaswagte wat deelgeneem het en die gemeenskap wat deur die padblokkade beweeg het, het die effektiwiteit van die aksie opgemerk. Ons kon ’n duidelike boodskap uitstuur dat ons ernstig is oor ons veiligheid.”

“Hierdie is ’n toonbeeld van puik samewerking tussen die SAPD en die buurtwagte. Die plaas- en buurtwaglede het gewys dat gemeenskappe wat saamwerk, misdadigers hul gebied kan ontsê. Dit was ’n voorreg om te sien hoe nou die polisie en gemeenskap saamwerk om hierdie doel te bereik,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Raak betrokke by AfriForum in Limpopo: Laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot) of SMS “Noordstreek” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings