AfriForum se Pongola-tak skep hoop tydens boomplantmaand


Die Pongola-aftreeoord, Pongola Akademie en omliggende kerke en ondernemings het almal bome ontvang wat deur die AfriForum-tak in Pongola geplant is as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaandprojek.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, het die organisasie vanjaar meer as 3 000 bome landwyd geplant. “Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit ’n mooier plek te maak om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis.”

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Pongola onderneem om hierdie sorg in samewerking met die gemeenskap te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en opregte hoop vir die toekoms het,” sê Jané Taljaard, voorsitter van AfriForum se Pongola-tak.

Die Pongola-tak bedank graag Wildflower Nursery vir die skenking van die bome en moedig die gemeenskap aan om deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings