|

AfriForum se Port Elizabeth-tak neem aan #VegEnBou-veldtog deel

Die AfriForum-tak in Port Elizabeth het van 6 tot 14 Maart 2020 verskeie projekte in dié stad aangepak as deel van die organisasie se #VegEnBou-veldtog.

Die week is afgeskop met ’n ontbyt waartydens dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake, gaste breedvoerig ingelig het oor onderwerpe van aktuele belang soos die beplande nasionale gesondheidsversekering (NGV) en onteiening sonder vergoeding. Dirk Burger, voorsitter van AfriForum se Port Elizabeth-tak, het die organisasie se plaaslike doen en late verduidelik en almal uitgenooi om deel te wees van ’n opwindende tyd van ontwaking, gelei deur ’n begeesterde span AfriForum-vrywilligers.

AfriForum Jeug het op 7 Maart ’n tak in Port Elizabeth gestig. Die belangstelling was uitstekend, veral onder studente van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU). Die nuwe tak het reeds die volgende dag hul eerste aksie gehou en daar word groot dinge van dié jongmense verwag.

Op 9 en 10 Maart het AfriForum se teenboeliespan onder leiding van Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir juniorjeugontwikkeling, en Mattheus die gelukbringer vier plaaslike laerskole besoek. Hul kragtige en praktiese boodskap om afknouery te beveg het meer as 2 500 leerders bereik en die program is uiters positief deur die onderskeie skole ontvang.

’n Span vrywilligers van AfriForum se Port Elizabeth-tak het dieselfde week ingespring en die gebied wat aan die Konsentrasiekampgedenkteken grens (op die Old Greys-sportterrein) skoongemaak en opgeknap. Meer as 1,5 ton rommel en klip is verwyder en ’n nuwe tuin is gevestig. Ter ondersteuning van die landwye spekboomuitdaging is 50 spekboomsteggies in die nuwe tuin geplant. Die volgende aksie was ’n besoek aan Huis Genot, ’n tehuis vir bejaardes in die voorstad Algoa Park. Die 120 inwoners en 70 personeellede is vermaak en met geskenkpakkies en verversings bederf. Twee plaaslike ondernemings, Vistarus en Piece of Art, se personeel is ook met middagete verras as erkenning vir hul waardevolle bydrae tot die gemeenskap.

“AfriForum se Port Elizabeth-tak wil graag saam met die gemeenskap werk om volhoubare selfdoenprojekte van stapel te stuur. Met goeie spanwerk en geesdrif kan elke gemeenskap bo sy omstandighede uitstyg en die stad ’n beter plek vir almal maak. Daarom is dit noodsaaklik dat die gemeenskap by die plaaslike tak betrokke raak,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid het hul werksaamhede in die Oos- en Suid-Kaap met hul #VirHoop-veldtog bekend gestel – die atleet Bennie Roux het op 14 Maart tydens ’n fietsry-en-veldhardloop-pretdag 120 km afgelê en R50 000 vir dié eenheid se slagofferondersteuningsfonds ingesamel.

Veiligheid was ook van belang tydens die #VegEnBou-veldtog. AfriForum se Walker Drive-buurtwag het op 13 Maart aan die organisasie se nasionale patrollie deelgeneem. Die gemeenskapsveiligheidspan onder leiding van David Olivier het ook op 14 en 15 Maart twee skole besoek en gratis veiligheidsoudits uitgevoer. Dié oudits is beskikbaar om skole by te staan in hul strewe om leerders, personeel en ouers veilig te hou. Ter afsluiting van ’n besige week is ’n skoonmaakprojek by Summerstrand geloods en die strand is gepatrolleer.

AfriForum se Port Elizabeth-tak nooi die gemeenskap uit om by hul projekte en aksies betrokke te raak. Sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Port Elizabeth” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings