|

AFRIFORUM SE POTCHEFSTROOM-BUURTWAG LÊ 10 000 KM IN PATROLLIES IN MAART AF

Die AfriForum-buurtwag in Potchefstroom se 178 aktiewe lede het in Maartmaand meer as 10 000 km afgelê tydens patrollies. Meer as 1 400 ure is opgeoffer om inwoners, hul eiendom en gebiede in en om Potchefstroom veilig te hou.

Verder het dié buurtwag op 12 Maart deelgeneem aan AfriForum se nasionale massapatrollie waartydens 198 mense in 135 voertuie 5 405 km in 734 ure afgelê het. AfriForum het hierdie massapatrollies van stapel gestuur om plaaslike veiligheidstrukture paraat te maak en om sigbaarheid in verskeie gebiede te verhoog. Verskeie ander organisasies het ook aan die patrollie deelgeneem, waaronder Mooirivier Beskerming, CB Security, Valuetrack, ER24, Potchefstroom-Oos Landelike Veiligheid, Potchefstroom-Suid Landelike Veiligheid, Rysmierbult GVE, Ventersdorp-rampbestuur en lede van PGV.

Die buurtwag het egter onlangs ’n terugslag beleef met die skielike afsterwe van Leon Nel, een van sy staatmakers. Die buurtwag is dankbaar dat hy ’n lid was en wens sy gesin die vertroosting van die Here toe. Hy gaan gemis word.

Jan de la Hunt, leier van AfriForum se Potchefstroom-buurtwag, bedank buurtwaglede vir hul onbaatsugtige diens aan die gemeenskap. “Kom sluit gerus by ons buurtwagfamilie aan en bekamp sodoende misdaad in jou woonbuurt. Die tyd het aangebreek om as gemeenskap saam te werk aan ’n veiliger toekoms vir almal.”

Raak vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-buurtwag betrokke en help sodoende om jou omgewing te beveilig. Skakel Leanie van Ronge by 072 314 1774 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings