|

AFRIFORUM SE POTCHEFSTROOM-BUURTWAG SPOOR GESTEELDE VOERTUIG OP

Die AfriForum-buurtwag in Potchefstroom het die afgelope naweek ’n baie belangrike rol gespeel om ’n gesteelde voertuig op te spoor. Die buurtwag is op 2 Julie in kennis gestel dat ’n voertuig by die Mooirivier-winkelsentrum in die dorp gesteel is. Die klaer het bevestig dat die motordiewe in die parkeerterrein verby hom gery het en op die N12 in die rigting van Johannesburg weggejaag het toe hy hulle probeer aankeer het.  

’n Lid van die publiek het die voorval aanskou en die boosdoeners saam met die eienaar van die gesteelde voertuig agternagesit, maar kon ongelukkig nie bybly nie. ’n Buurtwaglid het ’n berig oor die diefstal, asook ’n foto van die gesteelde voertuig op die plaaslike AfriForum-patrolliegroep versprei, waarna ’n parate buurtwaglid die gesteelde voertuig in ’n woonbuurt opgemerk en onmiddellik ander buurtwaglede se hulp ontbied het. Die voertuig is positief geïdentifiseer as die gesteelde voertuig en ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy is gevolglik om hulp genader.  

Die SAPD en die eienaar van die voertuig is ook gekontak en die eienaar het bevestig dat dit wel sy voertuig is. Hy was ook baie verlig dat sy skootrekenaar – wat belangrike inligting bevat – steeds in die voertuig was.  

Die buurtwag is egter nie net by die bekamping van misdaad betrokke nie. Daar was die afgelope tyd ook baie brande in die Potchefstroom-omgewing wat buurtwaglede help bestry het.

Jan de la Hunt, leier van AfriForum se Potchefstroom-buurtwag, bedank graag CB Sekuriteit en Mooirivier Beskerming vir die hulp wat hulle aan die buurtwag bied tydens patrollies.  

“Baie dankie aan elke buurtwaglid wat so paraat was. Groot dank ook aan die patrollielede wat elke dag so getrou patrollie ry ter wille van die gemeenskap se veiligheid. Julle maak ’n groot verskil,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.  

Raak vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-buurtwag betrokke en help sodoende om jou gemeenskap te beveilig: Skakel Leanie van Ronge by 066 423 9239 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings