AfriForum se Potchefstroom-buurtwag trek inbrekers vas

 

Die AfriForum-buurtwag in Potchefstroom het op 29 September 2017 tydens ’n massapatrollie drie vermeende inbrekers in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Lupinestraat, Grimbeekpark vasgetrek. Die verdagtes is gesoek nadat daar vroeër die aand by ’n huis in dié omgewing ingebreek is.
Die arrestasies het gevolg nadat Herman Swiegers, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak en ’n buurtwaglid, inligting via die buurtwag se radionetwerk ontvang het. Swiegers het die verdagtes geïdentifiseer, voorgekeer en onmiddellik die polisie ontbied.
Die massapatrollie is gehou om die sigbaarheid van die buurtwag in die gemeenskap te bevorder, asook om veiligheid in die dorp en woongebiede op te skerp. Die AfriForum-buurtwag bestaan uit vrywilligers wat die dorp saans patrolleer, dikwels in samewerking met ander veiligheidsinstansies soos die SAPD en die plaaslike plaaswag.

“Veiligheid is ’n groot prioriteit vir AfriForum se Potchefstroom-tak. Elke lid van die buurtwag speel ’n sleutelrol en ons moedig inwoners aan om betrokke te raak sodat ons vry, veilig en voorspoedig kan leef,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die sentrale streek.
 “Gemeenskappe wat saamstaan is sterker en kan ’n wesenlike verskil maak,” sê Swiegers, voorsitter.

Jy kan help om jou omgewing te beveilig – raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke deur “Buurtwag” na 45342 (R1) te SMS.

Soortgelyke plasings