|

AfriForum se Potchefstroom-tak bring rioolprobleem onder administrateur se aandag

Bestuurslede van die AfriForum-tak in Potchefstroom het op 22 September 2020 die nuut aangestelde administrateur, Thupi Mokhatla, en sy personeel op ’n toer deur die dorp geneem om die rioolkrisis in dié dorp aan hulle uit te wys. Saam met Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het die bestuurslede verskeie kwessies onder die munisipaliteit se aandag gebring.

Lieb Venter, omgewingsakebeampte van die tak, het aan Mokhatla uitgewys dat indien die probleem nie spoedig opgelos word nie, die Mooirivier en dus ook die Vaalrivier onder ernstige besoedeling gebuk sal gaan. Die rioolbesoedeling beïnvloed ook die ondergrondse water, wat daartoe kan lei dat daar binnekort geen drinkbare water in Potchefstroom beskikbaar sal wees nie.

Mokhatla het die erns van die situasie ingesien en het onderneem om dringend met die hulp van kundige ingenieurs ’n studie van die rioolstelsel in Potchefstroom te laat doen, sodat ’n oplossing gevind kan word. AfriForum het gevra dat daar teen 5 Oktober ’n werkbare plan van aksie voorgelê sal word.

“Ons is dankbaar dat Mokhatla bereid is om saam met ons te werk en erns te maak van hierdie probleem op ons dorp. AfriForum wil graag hande vat met die munisipaliteit en sal help waar ons kan, maar die verantwoordelikheid bly primêr die munisipaliteit s’n en ons sal hulle verantwoordbaar hou,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings