AfriForum se Potchefstroom-tak en -buurtwag maak park mooi, skoon en veilig

AfriForum se Potchefstroom-tak en -buurtwag het in Februarie 2020 verskeie skoonmaakprojekte van stapel gestuur om dié dorp weer mooier, skoner en veiliger te maak. Die laaste projek vir Februarie is by die park in Klinkenbergstraat aangepak, waar die gras gesny en rommel opgetel is.

Die Potchefstroom-tak bedank graag vir Henk Fritz vir die gebruik van sy trekker en snyer wat die werk soveel vinniger en makliker gemaak het. Die tak is ook dankbaar dat soveel AfriForum-lede en hul werknemers hulp aangebied het. Die tak het anonieme donasies van inwoners ontvang en twee persone van Huis Hebron se lone is ook anoniem betaal.

“Sodra ’n gemeenskap só saamstaan, kan mens die verskil sommer dadelik opmerk. Die dorp lyk nie net mooier nie, maar laat mens ook beter voel. Ons hoop dit sal al die inwoners aanspoor om by dié tak aan te sluit en met soortgelyke projekte te help,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Op 21 Maart 2020 gaan die tak die parkie in Louwsstraat verder opruim en skoonmaak. Daarna word die gemeenskap uitgenooi om by ’n bring-en-braai saam te kuier.

Kontak gerus vir Juan van Ronge by 072 383 0801 of Leanie van Ronge by 072 314 1774 vir enige navrae oor toekomstige projekte in Potchefstroom of om by die plaaslike AfriForum-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings