|

AfriForum se Potchefstroom-tak gee om vir die omgewing

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het verlede week weer indringerbome saam met GreenThorn Environmental Solution, ’n maatskappy met van die beste kundiges wat die beheer van indringerplante betref, in die vloedvlakte van die Mooirivier verwyder.

Dit volg nadat daar reeds ’n paar weke gelede begin is om indringers aan die onderkant by die KFC te verwyder. Aangesien daar nog baie water in die rivier vloei, was dit onmoontlik om die bome wat in die loop groei te verwyder en is daar net in die vloedvlakte van die rivier gewerk. AfriForum onderneem om die bome in die loop ook te verwyder sodra die watervlak voldoende gesak het; dit sal waarskynlik teen die einde van die winter gebeur. Daar is egter ook ander rommel in die rivier wat die vloei kan belemmer en daar word vertrou dat die brandweer moontlik sal kan help om die materiaal te verwyder. Daar word ook beplan om die indringerbome langs Villa de Mooi binne die volgende week of twee te verwyder.

Ongelukkig het die parke-afdeling van die munisipaliteit egter weer teleurgestel, aangesien hulle ten spyte van ’n vooraf reёling nie die afgesnyde materiaal uit die terrein verwyder het nie. Met die verwydering van plantegroei is gevind dat die stormwatervoor wat langs Nelson Mandelarylaan (N12) geleë is, tot so ’n mate oorgroei is met riete en gras dat dit ’n groot risiko vir oorstromings inhou.

“Ek is dankbaar vir die diens wat GreenThorn Environmental Solutions lewer om die vloedrisiko van die Mooirivier Mall te verminder met die verwydering van die indringerbome in hierdie gedeelte van die rivier. Ek hoop en vertrou dat die betrokke partye aangrensend aan die terrein bereid sal wees om finansieël by te dra tot die kostes van die skoonmaak van die rivier, aangesien dit ook die wegkruipplek van verdagtes aansienlik verminder. Ek doen ‘n beroep op enige persoon of instansie wat wil help met die taak, om my te kontak by 083 460 9190,” sȇ Piet Theron, die waarnemende voorsitter van die AfriForum-tak in Potchefstroom.

“Hierdie tak doen reusewerk om die agteruitgang van die omgewing hok te slaan. Dis egter hartseer dat die owerhede dit tot so ’n mate laat agteruitgaan dat dit nou baie geld en harde werk kos om te rehabiliteer,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak vir Leanie van Ronge by 066 423 9239 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings