| |

AFRIFORUM SE POTCHEFSTROOM-TAK KRY NIE ANTWOORDE OOR BESOEDELINGSPROBLEEM NIE

Inwoners in die area naby die Total-vulstasie in Potchefstroom ly geweldig onder die rioolbesoedeling wat reeds vir meer as ’n jaar plaasvind. Die AfriForum-tak in Potchefstroom het vroeër met verskeie rolspelers – insluitend AfriForum se nasionale en plaaslike omgewingspan, die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit en die Groen Skerpioene – oor dié probleem vergader.

Inwoners se vrae is gedurende die vergadering beantwoord en die omgewingsprobleem is ook onder die loep geneem. Vrae wat ontstaan het, is of daar onder meer ’n behoorlike omgewingsimpakstudie gedoen is voordat daar met die projek begin is en waarom die vulstasie nie deel van die munisipale rioolstelsel is nie.

Die personeel van die Groen Skerpioene maak goeie vordering met die navorsing oor die omgewingsimpakstudie en daar is bewerings dat ’n groot bedrag aan die munisipaliteit betaal is vir riooldienste. Ongelukkig het die direkteur van tegniese dienste van die munisipaliteit wat navorsing moet doen oor die rioolstelsel en die bedrag wat na bewering betaal is, nog geen vordering gemaak nie. Verder veroorsaak die feit dat die munisipale pad na die hoewes gesluit is dat mense bourommel daar stort.

Total moet na bewering dringend aansoek doen om by die munisipale rioolstelsel ingesluit te word. Daar sal ook ernstig aandag gegee moet word aan die probleem met stormwater wat die rioolprobleem vererger.

Indien AfriForum nie bevredigende antwoorde van die plaaslike munisipaliteit ontvang oor die stappe wat hulle gaan doen om die probleem op te los nie, sal regstappe oorweeg moet word.

“Dit is vir AfriForum kommerwekkend dat die munisipaliteit nie ’n daadwerklik poging aanwend om hierdie en talle ander rioollekke in die dorp te herstel nie. Rioollekkasies waar riool direk in die Wasgoedspruit vloei is al aangemeld en dit word nie met die nodige dringendheid hanteer nie. Aan die ander kant behoort ’n maatskappy soos Total dringende stappe te oorweeg om die probleem wat een van hulle vulstasies veroorsaak, op te los,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder in die Mooirivier-streek.

Word vandag nog deel van AfriForum se Potchefstroom-tak: SMS “Potchefstroom” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings