|

AfriForum se Potchefstroom-tak #VegEnBou in September

AfriForum se Potchefstroom-tak het in September die organisasie se #VegEnBou-projek in die dorp afgeskop en verskeie opheffingsprojekte en veiligheidsaksies is tydens die #VegEnBou-tydperk gehou.

Die volgende aksies het plaasgevind:

Op 4 September is daar ’n sportaksie by Lekwena Wildlife Estate gehou. Daar was ’n geleentheid vir lede van die gemeenskap om in die natuur te stap, draf of fiets te ry, waarna almal by die restaurant saam gekuier het en meer oor AfriForum geleer het. Lekwena Wildlife Estate het hulle perseel gratis aan AfriForum beskikbaar gestel en Videotheque All About Events het die musiek verskaf om ’n lekker atmosfeer te skep. Indien jy betrokke wil raak by die AfriForum-tak se sportbeen, kontak gerus vir Juron Maree by 082 467 6853.

Op Vrydagaand, 10 September, het die AfriForum-buurtwagte in Potchefstroom ’n gesamentlike patrollie van 22:00 tot 00:00 gehou om sigbaarheid in die dorp te verhoog. Altesaam 46 lede het in 33 voertuie aan die patrollie deelgeneem en 1481 km gery. Daar was geen insidente nie. 

Op Saterdag, 11 September, het AfriForum Jeug se Puk-tak gehelp om die strepe en voetoorgange op die Bult te verf om die pad veiliger te maak vir studente. Sowat 25 AfriForum Jeug-lede en CID-lede het hierdie aksie aangepak.

AfriForum-taklede het op 18 September die sirkel op die hoek van Klinkenberg- en Ben Pienaarstraat oorgeverf. Die vrywilligers van Trots Potch het ook by die taklede aangesluit en die area rondom die sirkel, inkopiesentrum en parkie skoongemaak en sowat 15 sakke vullis verwyder. Verder is daar ook ’n toegeeteken en twee stoptekens vervang. Lede van die publiek het die vrywilligers ook kom bederf met verversings.

Intussen het Dirk Venter voortgegaan om slaggate te herstel op verskeie plekke in die dorp. In September is 108 m2 se slaggate met 410 sakkies teer gevul. Die slaggatprojek is deurlopend en die tak maak staat op donasies van die gemeenskap af om teer aan te koop en die projek voort te sit. Gemeenskapslede wat by hierdie projek wil betrokke raak kan vir Dirk Venter skakel by 082 953 3155.

“Baie dankie aan almal wat bereid was om met hierdie aksies te help. Ons kan opreg trots wees op aksies soos dié wat ons dorp opbou en verbeter. Dit voel dalk soos ’n druppel in die emmer maar op die ou end maak elke bietjie ’n groot verskil,” sê Piet Theron, waarnemende voorsitter van die Potchefstroom-tak.

“Dit is baie lekker om te sien dat die tak soveel projekte aanpak om Potchefstroom te verbeter. Ons wil graag die gemeenskap nooi om betrokke te raak by die AfriForum-tak om só sterker te staan en ’n groter verskil in die dorp te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak vir Leanie van Ronge by 066 423 9239 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings