|

AfriForum se Potgietersrus-buurtwag hou sigbaarheidspatrollie saam met SAPD

Die AfriForum-buurtwag in Potgietersrus het op 20 Augustus in samewerking met die SAPD in dié dorp ’n sigbaarheidspatrollie gehou wat tot die vroeë oggendure geduur het. Die doel van die patrollie was om misdaadvoorkoming te bewerkstellig deur die sigbaarheid van veiligheidstrukture in Potgietersrus te verhoog.

Altesaam 13 buurtwaglede was saam met die SAPD by dié patrollie betrokke. Drie spanne het gesamentlik deur die dorp beweeg om knelpunte te besoek. Drie arrestasies is ook tydens die patrollie gemaak in verband met dwelmmisbruik, openbare geweld en huishoudelike geweld.

“AfriForum het ʼn goeie samewerkingsverhouding met die SAPD in Potgietersrus, wat belangrik is in die bereiking van ʼn gemeenskaplike doel om gemeenskappe te beveilig,” sê Louis Loggenberg, ’n AfriForum-buurtwaglid.

“Hierdie buurtwaglede is besig om eienaarskap van hulle eie dorp en veiligheid te neem. Met elke patrollie en aksie bou ons aan ’n veiliger omgewing vir alle gemeenskapslede,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

AfriForum-buurtwaglede in Potgietersrus is in die proses om dié buurtwag uit te brei. Raak vandag nog betrokke by hierdie buurtwag: Laai die Telegram-toep af en soek @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot) of SMS “Noordstreek” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings