|

AFRIFORUM SE POTGIETERSRUS-BUURTWAG VEG EN BOU

AfriForum se Potgietersrus-buurtwag was die afgelope week bedrywig en het betrokke geraak by verskeie aksies om die veiligheid van die plaaslike gemeenskap te verseker.

Die oggend van 21 April het die polisie in Mahwelereng die buurtwag gevra om te help om huise te deursoek waar verdagtes vermoedelik skuil. Die verdagtes was glo betrokke by ’n gewapende roof by ’n onderneming. Twee verdagtes is in hegtenis geneem en daar is beslag op ’n vuurwapen gelê. Daar is vasgestel dat die vuurwapen aan ’n voorval van huisbraak verbind word.

Op dieselfde aand het buurtwaglede hulp verleen by ’n ongelukstoneel. ’n Voertuig het gerol en die bestuurder het die toneel verlaat. Die buurtwaglede kon daarin slaag om die bestuurder op te spoor en die persoon is aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek.

Dinsdagaand 20 April is die buurtwag se hulp ingeroep by die industriële area by Barloworld waar verdagtes besig was om in te breek. Die buurtwag het die gebied omsingel en die voetspore gevolg waar die lyndraad geknip was. ’n Verdagte is gevind waarna die persoon deur ’n ooggetuie uitgeken is. Die verdagte se voetspore is herken as die voetspore wat deur die geknipte heining geklim het. Die persoon is aan die polisie oorhandig en ’n klag van inbraak en beskadiging van eiendom is aanhangig gemaak. Twee ander verdagtes het egter gevlug.

Voorheen, op 16 April, het die buurtwag vyf verdagtes in hegtenis geneem tydens twee afsonderlike voorvalle. Tydens die eerste voorval het die buurtwag gehelp om vyf mense in hegtenis te neem wat mieliemeel onwettig op die R101-pad tussen Potgietersrus en Pietersburg verkoop het.

“Die bedryf wat mieliemeel vervoer word in besonder geteister deur vragmotorbestuurders wat nie die volledige vrag aflewer nie, maar langs die pad stilhou en dan die produk onwettig verkoop. Die buurtwag hou dié misdaad al ’n geruime tyd dop en kon dus onmiddellik reageer toe die boodskap deurkom van die verdagtes wat langs die pad staan en mieliemeel verkoop,” sê Hennie de Vos, voorsitter van AfriForum se Potgietersrus-tak.

Op 16 April het die buurtwag ook hulp verleen by ’n motorongeluk in Sussexstraat waar die motorbestuurder vermoedelik onder die invloed van drank was. Die persoon het ’n kragpaal raakgery en sodoende kraglyne beskadig. Die buurtwag het die toneel beveilig. Daarna het die buurtwag Suricate Sekuriteit gehelp om ’n persoon in hegtenis te neem wat een van die sekuriteitswagte aangeval het.

“Een van AfriForum se oorhoofse fokuspunte is dat ons werksaamhede tot ’n veilige samelewing moet bydra waarin AfriForum se lede, ondersteuners en ander burgers veilig is en voel. Dit is egter onmoontlik om dit te doen sonder uitvoerende vermoë op gemeenskapsvlak. Hierdie buurtwag is ’n toonbeeld van hoe daar op grondvlak ’n vlag van diensbaarheid gehys word. Deur samewerking, wettige optrede en samewerking, is hierdie buurtwag besig om ’n vry, veilige en voorspoedige tuiste vir die mense van Potgietersrus te skep,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Om betrokke te raak by AfriForum se buurtwag in Potgietersrus, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings