|

AFRIFORUM SE POTGIETERSRUS-BUURTWAG VERLEEN BYSTAND TYDENS BRAND

AfriForum se Potgietersrus-buurtwaglede het op 2 November bystand verleen tydens ’n brand by Nedan Oil.

Dié buurtwag het Maandagaand inligting ontvang van die brand en dadelik na die toneel gegaan om bystand te verleen. Die buurtwag het gehelp om paaie toe te maak sodat nooddienste onbelemmerd kon beweeg en om die publiek weg te hou van die gas wat op die perseel gestoor word. Buurtwaglede het die brandweer ook gehelp om die brand onder beheer te bring deur pype te koppel en toegang tot een van die store te verkry. Daar is ook koeldrank en water vir alle noodpersoneel verskaf, aangesien die stryd teen die brand lank geduur het. Ander nooddienste wat die brandweer bygestaan het en saamgewerk het, was Anglo American se mynbrandspan, SOS Ambulansdienste, Basopa Security en Global Strike Force Security.

Alhoewel talle noodpersoneel tydens en na die brandbestryding suurstof ontvang het, is niemand gedurende die voorval beseer nie. Die vuur is Dinsdagoggend teen 00:30 onder beheer gebring.

“Hierdie brand was besonders gevaarlik vanweë die aard van die perseel waar dit plaasgevind het. Dit was vir die buurtwag belangrik om seker te maak dat die publiek op ’n afstand bly, weg van die brand af. Ons waardeer die wyse waarop die gemeenskap en al die noodpersoneel saamgewerk het om die krisis onder beheer te bring,” sê Hennie de Vos, voorsitter van AfriForum se Potgietersrus-tak.

“Die Potgietersrus-buurtwag het weereens bewys dat hulle ’n belangrike en relevante rol speel in die gemeenskap. Die dorp is bevoorreg om hierdie span vrywilligers te hê wat omsien na hulle welstand,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder in Limpopo.

Om betrokke te raak by AfriForum se Potgietersrus-buurtwag, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings