|

AfriForum se Potgietersrus-tak plant inheemse bome vir ’n groener toekoms 

Mokopane gaan nou nóg groener wees danksy ’n skenking van inheemse bome aan verskeie skole in die dorp op 20 September. AfriForum se Potgietersrus-tak in Mokopane het melkhoutbome (Sideroxylon inerme) aan Laerskool Krugerpark, Hoërskool Piet Potgieter en die CVO Skool Potgietersrus geskenk as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaand in September.

Volgens Ernie van Biljon, voorsitter van AfriForum se Potgietersrus-tak, is AfriForum op verskeie maniere by die bevordering van omgewingsvolhoubaarheid en die bewaring van Suid-Afrika se natuurlike erfenis betrokke. AfriForum se boomplantmaand vind elke jaar samelopend met Nasionale Boomplantdag plaas en het ten doel om die publiek oor die belangrikheid van bome in te lig en aan te moedig om inheemse bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en ’n mooier plek te maak om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsels of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê Van Biljon.

Die Potgietersrus-tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter én groener toekoms. Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings