|

AfriForum se Pretoria-takke werk hard vir ’n skoner en veiliger omgewing

Die AfriForum-takke in Centurion en die Groter Moot het op 11 Junie brandbestrydingsopleiding ontvang en ook ’n skoonmaakaksie by die Voortrekkermonument aangepak as deel van die #OnsDorp-projek.

Daar was tien vrywilligers vanuit beide die takke wat deelgeneem het aan die brandbestrydingsopleiding. Dit is vir AfriForum belangrik om taklede en buurtwaglede nie net met die nodige toerusting toe te rus om gemeenskappe veilig te hou nie maar dat hierdie vrywilligers ook met die nodige kennis toegerus word om te verseker dat gemeenskappe verantwoordelik en binne die raamwerk van die wet beveilig word.

Die takke het ook hande gevat en ’n grootskaalse skoonmaakaksie by die Voortrekkermonument aangepak. Hierdie aksie, wat deel is van die #OnsDorp-projek, is ’n geleentheid vir die gemeenskap om self in te spring en hulle omgewing skoon te maak om ’n verskil te sien.

“Hierdie takke is elk aan ’n verskillende area in Pretoria verbonde maar dit plaas glad nie ’n demper op hulle entoesiasme om af en toe kragte saam te snoer en ’n groot projek soos hierdie suksesvol af te handel nie. Die feit dat hierdie vrywilligers aktief en gretig by hierdie skoonmaakaksies opdaag op ’n Saterdag is regtig iets waarop hierdie twee takke trots kan wees,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir groter Pretoria-Suid.

Raak vandag by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke deur ’n epos te stuur na centurion@afriforumtak.co.za  of groter-moot@afriforumtak.co.za

Soortgelyke plasings