AfriForum se Randfontein-tak behaal sukses met rioolaanleg

 

Die AfriForum-tak in Randfontein het op 20 Maart 2019 ’n groot sukses behaal in ’n kommerwekkende rioolsaak wat die laaste twee jaar sloer.

Matiam van Vuuren, Randfontein-takvoorsitter, en Jan Lubbe, Randfontein-ondervoorsitter, het ontwikkelings in die Greenhills-omgewing, wat die dorp se rioolstelsel nog verder gaan verswak, onder AfriForum-hoofkantoor se aandag gebring. Die stand van sake by die rioolaanleg in Randfontein is die afgelope paar jaar katastrofies en met die ekstra druk op die aanleg sou dinge heeltemal vererger.

“Hierdie is ’n goeie voorbeeld van wanbestuur. Die oortollige riool word sommer in die velde gestort omdat die rioolaanleg nie op peil is nie,” sê Van Vuuren.

Ná vele onsuksesvolle skrywes wat aan die einde van 2018 aan die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit gestuur is, het AfriForum vanjaar weer die saak aangepak en dié keer is die organisasie se prokureurs genader. Daar is op 20 Maart 2019 bevestig dat kontrakteurs wel aangestel is wat al die afgelope drie weke aan die rioolaanleg werk.

“Hierdie is nog ’n goeie voorbeeld waar volgehoue druk op grondvlak seëvier. Sonder ons AfriForum-takbestuurslede wat aanhoudend druk op die plaaslike munisipaliteit toegepas het, sou die sukses definitief nie plaasgevind het nie,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Wes-Rand.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Randfontein” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings