AfriForum se reaksie op Ramaphosa-standpunt rakende mobilisering van buitelandse steun


AfriForum sê in reaksie op president Ramaphosa se stelling dat diegene wat die internasionale gemeenskap teen die “land” mobiliseer, “huis toe moet kom vir gesprekvoering”, dat die president nie Suid-Afrika se belange en die ANC se beleidsrigtings met mekaar moet verwar nie.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dié organisasie tans in die VSA om die internasionale gemeenskap te mobiliseer teen die ANC se amptelike beleid van onteiening sonder vergoeding wat gedurende Desember 2017 deur dié party aanvaar is, asook vir bewusmaking oor plaasmoorde.

“Om AfriForum se internasionale veldtog as ’n veldtog teen Suid-Afrika voor te hou, is vals. Die teendeel is eerder waar: Ons veldtog het ten doel om Suid-Afrika teen die skending van eiendomsreg te beskerm. Dit is juis daarop gemik om te verhoed dat die ANC nie die ekonomie met ondeurdagte beleidsrigtings vernietig, ten koste van almal in die land nie,” sê Kriel.

Kriel dui verder daarop dat AfriForum meer as bereid is om in Suid-Afrika aan gesprekvoering oor brandpunte deel te neem.

“Soos wat die ANC in die verlede gedoen het, sal AfriForum egter voortgaan om internasionale steun te werf en terselfdertyd aan gesprekvoering deelneem.”

Indien president Ramaphosa ernstig is oor gesprekvoering, sal hy volgens Kriel moet toesien dat stemme vanuit minderheidsgemeenskappe ook ernstig opgeneem word en nie uitgesluit of geïgnoreer word soos wat die geval in die verlede was nie.

Soortgelyke plasings