|

AfriForum se Richardsbaai-tak dien GOP voorstelle in

Die AfriForum-tak in Richardsbaai het op 21 April voorstelle vir die jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) by die uMhlathuze Plaaslike Munisipaliteit ingedien. Hierdie voorstelle is gemaak om die beskadigde en vervalle ablusiegeriewe en die gebou wat lewensredders as uitkykpunt gebruik by Alkantstrand te herstel en op te gradereer.

“Hierdie gebou het dringend aandag nodig om toeriste se veiligheid op ons strande te verseker. Die swak toestand van hierdie geriewe hou definitief ’n veiligheidsrisiko in en plaas ons toerisme en ekonomie in gedrang,” sê Ian Rapson, voorsitter van die Richardsbaai-tak.

“Dit is belangrik dat takke deelneem aan die GOP-proses om hierdie tipiese voorstelle in te dien wat sal bydra tot ontwikkeling in ons gemeenskappe. Ons het al suksesvolle voorstelle ingedien wat in die GOP opgeneem en afgehandel is,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

“Ons wil die uMhlathuze Plaaslike Munisipaliteit bedank vir hul dienslewering. Hierdie munisipaliteit is onder die 10 top munisipaliteite in Suid-Afrika en die AfriForum-tak in Richardsbaai wil help om hierdie status te behou,” sê Rapson verder.

Die AfriForum-tak in Richardsbaai nooi die gemeenskap uit om aan te sluit by hul Facebook-blad en deel te neem aan verdere projekte in Richardsbaai.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Richardsbaai” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings