| |

AFRIFORUM SE RIVERSDAL-BUURTWAG HELP SAPD OM OPERASIES UIT TE VOER

Die protospan van AfriForum se Riversdal-buurtwag, wat deel vorm van dié organisasie se Hessekwa-tak, het in die laaste week van Mei 2021 die SAPD gehelp om verskeie operasies suksesvol uit te voer. Die protospan is ’n groep in die buurtwag wat gespesialiseerde opleiding ontvang het.

Die operasies het onder meer behels die uitreik van lasbriewe, besoeke aan misdadigers wat tans op parool is, besoeke aan dwelmhuise en patrollies om sigbaarheid in die gemeenskap te verhoog. Die beplanning van hierdie operasies is saam met die SAPD gedoen voordat dit uitgevoer is. Verskeie mense is in hegtenis geneem, en daar is op ’n groot hoeveelheid dwelms beslag gelê. Die operasies word deur alle rolspelers as ’n reusesukses beskou.

AfriForum se Riversdal-protospan het oor die afgelope twee jaar intensiewe opleiding ondergaan, insluitend opleiding wat vredesbeamptes en wetstoepassers moet ondergaan. Dit verseker dat dié protospan met vertroue deur die SAPD aangewend kan word om die Riversdal-gemeenskap te beveilig.

“AfriForum se Riversdal-protospan is geweldig trots om ons gemeenskap op dié wyse te dien. Die protospan bedank die SAPD, met spesiale vermelding aan kapt. January, vir hul vertroue in die span. Dit is ’n voorreg om saam te werk en die span is besonders trots op die wedersydse vertrouensverhouding wat só gevestig is. AfriForum se Riversdal-buurtwag en -protospan sal aanhou om saam met ander organisasies te werk en hulp te verleen,” sê Johan Crous, AfriForum se Riversdal-buurtwagleier en lid van die protospan.

SMS “Veilig” na 45350 (R1) om by een van AfriForum se veiligheidstrukture betrokke te raak.

Soortgelyke plasings