|

AfriForum se Roodepoort-buurtwag help om misdaad te bekamp

AfriForum se Roodepoort-buurtwag het die afgelope twee weke behoorlik ingespring om misdaad in dié gemeenskap te bekamp.

Twee lede van dié buurtwag was besonders besig om die gemeenskap te beveilig en in tye van nood te ondersteun. Dk Khourie en Angelo Leibrant het gehelp om vermeende koperdiewe vas te trek, wat koper ter waarde van R100 000 in hul besit gehad het. Die verdagtes is in hegtenis geneem en aan die SAPD oorhandig. Dié buurtwaglede het ook gehelp om ’n motor terug te kry en ’n vermiste vrou op te spoor, en was betrokke by verskeie proaktiewe misdaadvoorkomingsaksies.

“AfriForum se buurtwag-lede offer hul persoonlike tyd en hulpbronne op om gemeenskappe te beveilig en in nood te ondersteun. Sonder hierdie toegewyde mense en strukture sal gemeenskappe verkrummel onder die druk wat misdaad op buurte plaas,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

AfriForum se Roodepoort-buurtwag sal voortgaan om misdaad in samewerking met die SAPD en ander gemeenskapveiligheidstrukture te bekamp. Ungerer moedig lede van die publiek aan om by veiligheidstrukture of -organisasies betrokke te raak: SMS “Roodepoort” na 45341 (R1) om by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings