|

AfriForum se Rustenburg-buurtwag en Rustenburg Crime Combating Forum beveilig begraafplaas vir besoekers

Die AfriForum-buurtwag in Rustenburg het deelgeneem aan ’n veiligheidsinisiatief wat gelei is deur die Rustenburg Crime Combating Forum (RCCF) in samewerking met die plaaslike gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF). Die gemeenskapsveiligheidstrukture het op 2 en 9 Augustus 2020 die Donkerhoek munisipale begraafplaas in Rustenburg beveilig sodat inwoners hul geliefdes se grafte kon besoek. Dié buurtwag het besluit om elke Sondag in Augustus van 11:00 tot 14:00 die begraafplaas te beveilig.

“Die swak toestand van dié begraafplaas skep ’n veiligheidsrisiko wat mense ontmoedig om daarheen te gaan. Die Rustenburg-buurtwag het daarom besluit om elke Sondag van Augustus dié begraafplaas te beveilig sodat inwoners veilig voel en die grafte kan besoek,” sê Dawie Odendaal, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. AfriForum se buurtwagte sal daarom voortgaan om klem te lê op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings