AfriForum se Rustenburg-tak doen herstelwerk vir bejaardes

AfriForum se Rustenburg-tak het oor die afgelope 12 maande herstelwerk en instandhouding ter waarde van R120 000 in samewerking met Demar Konstruksie by die munisipale woonstelle vir bejaardes in Kremetartlaan en Kerkstraat verrig. Dié werk behels hoofsaaklik die vervanging van geisers en hoëdrukkleppe, en die herstel van waterpyplekke.

“Die instandhouding en herstelwerk van die woonstelle is die munisipaliteit se verantwoordelikheid. Dit het egter onder die Rustenburg-tak se aandag gekom dat die munisipaliteit glad nie hierdie verantwoordelikheid nakom nie en dat baie van die woonstelle geen warm water het nie. Dit is baie ontstellend dat die munisipaliteit nie na die kwesbaarste mense in ons gemeenskap omsien nie – bejaardes word tydens die COVID-19-pandemie en die koue wintermaande wat voorlê aan hul eie lot oorgelaat,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Ons kan eenvoudig nie toekyk hoe ons bejaardes swaar kry nie. Die munisipaliteit moet verantwoordelikheid neem; daarom is AfriForum besig om prosesse in plek te stel om te verseker dat die munisipaliteit hul pligte in die toekoms nakom. Ons is baie dankbaar dat Demar Konstruksie ons tegemoet gekom het met laer kostes, wat die projekte moontlik gemaak het,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

Die tak versoek ook dat gemeenskapslede en plaaslike ondernemings by die inisiatief betrokke sal raak om ’n selfs groter verskil te maak en meer soortgelyke projekte aan te pak. SMS “Rustenburg” na 45351 (R1) of kontak Trytsman by 082 469 2221 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings