AfriForum se Rustenburg-tak doen mee aan openbaredeelnameproses


Chris Trytsman, die voorsitter van die burgerregtewaghond AfriForum se Rustenburg-tak, het op Woensdag 28 Maart 2018 die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit se spesiale raadsvergadering tydens die jaarlikse begrotingsverslag toegespreek en kwessies aangaande die stand van sake in Rustenburg uitgelig.
Trytsman het die belangrikheid van samewerking tussen dié munisipaliteit en AfriForum aan die raad benadruk.
Trytsman het ’n paar van die aksies aan die raad uitgelig wat AfriForum geloods het om die munisipaliteit se taak te vergemaklik, waaronder die skoonmaak van die begraafplaas asook buurtwagpatrollies en die beskikbaarstelling van karwagte tydens plaaslike geleenthede om sodoende die gemeenskap te help beveilig.
Verder het Trytsman die munisipaliteit ook gemaan om dringend aandag aan infrastruktuur te skenk, met spesifieke verwysing na gebarste waterpype.

“Hierdie soort interaksie met die plaaslike munisipaliteit is vir AfriForum belangrik – om te poog om deur volgehoue samewerking aandag aan die probleme wat Rustenburg se inwoners in die gesig staar, te gee,” sê Charné Blignaut, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Marico-streek.

Soortgelyke plasings