|

AfriForum se Rustenburg-tak herstel slaggate en maak dorp skoon

Die AfriForum-tak in Rustenburg het in Julie sy volhoubare projek in die dorp voortgesit. Dié projek behels die sny van gras op sypaadjies, die optel van rommel en die herstel van slaggate. Die tak het in Julie R10 000 aan die projek bestee.

22 slaggate is in verskeie dele van die dorp opgevul, terwyl die sypaadjies van die volgende strate netjies gemaak is: Zendeling, Belkum, Kerk, McGregor en Molen.

“Die munisipaliteit versuim om die dorp netjies en die paaie in stand te hou. Die lang gras op die sypaadjies en die slaggate is ’n geweldige veiligheidsrisiko vir motoriste in Rustenburg. Daar waar die munisipaliteit nie hul werk doen nie, sal AfriForum toetree om die gemeenskap te help,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum vra ook dat gemeenskapslede en sakeondernemings by dié inisiatief betrokke sal raak om selfs ’n groter verskil te maak.

“Hierdie volhoubare projek is daarop gefokus om die gemeenskap te help. Ons maak twee tot drie dae per week skoon en herstel slaggate,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

Raak vandag nog by dié projek betrokke: SMS “Rustenburg” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings