|

AfriForum se Rustenburg-tak maak dorp skoon

Die AfriForum-tak in Rustenburg het in November voortgegaan met hulle volhoubare skoonmaakprojek. Die span het veral gefokus op Geelhoutpark en Cashan waar hulle die gras van die parke gesny het en rommel opgetel het. Daar is ongeveer vyf hektaar se gras gesny in Kremetart-, Sesdelaan, en Kloofstraat, terwyl 23 sleepwa-vragte vol rommel verwyder is.

“Die munisipaliteit versuim al vir jare om die parke en oop areas in Rustenburg te onderhou, wat tot gevolg het dat hierdie areas in ’n bedenklike toestand is. Die toestand van hierdie areas veroorsaak omgewing- en veiligheidsrisiko’s. Sommige van die materiaal wat die skoonmaakspan al in die parke gevind het is baie skadelik vir die omgewing en die bebosde areas dien as skuilplek vir misdadigers. Ek is daarom baie bly dat die tak hierdie projek prioritiseer het,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Ons dryf hierdie projek omdat dit tyd is vir ons as gemeenskap om self verantwoordelikheid te neem vir ons dorp. Ons kan bloot nie toelaat dat die munisipaliteit die dorp in die afgrond in wanbestuur nie. AfriForum sal voortgaan om die gemeenskap te ondersteun en volhoubare projekte te identifiseer om sodoende ’n beter omgewing te probeer skep. Baie dankie ook aan elke AfriForum lid wie se finansiële bydraes hierdie projekte moontlik maak,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

Word vandag nog deel van AfriForum se Rustenburg-tak: SMS “Rustenburg” na 45351 (R1) of skakel vir Chris Trytsman by 082 469 2221.

Soortgelyke plasings