|

AfriForum se Rustenburg-tak maak ou begraafplaas skoon

AfriForum se Rustenburg-tak het op 15 Februarie 2020 in samewerking met Crazy Skip en Rustenburg Therm Guard ’n skoonmaakaksie by die ou begraafplaas in Nelson Mandelastraat van stapel gestuur. Die plaaslike munisipaliteit verwaarloos al vir jare dié geskiedkundige begraafplaas en daarom het AfriForum besluit om hierdie kulturele landmerk in Rustenburg van ondergang te red.

Die gras in die begraafplaas was meer as ’n meter lank, wat die perseel byna ontoeganklik gemaak het. Slegs die bopunte van die grafstene het uitgesteek, terwyl sekere grafstene totaal onder die lang gras bedek was. Hawelose mense maak ook vuur en slaap in die begraafplaas, wat hewige besoedelingsprobleme tot gevolg het.

“Dit is hartseer dat die munisipaliteit nie waarde heg aan geskiedkundige gebiede in ons dorp nie. Daarom sal AfriForum altyd toetree om hierdie gebiede en landmerke te beskerm om sodoende ons erfenis te bewaar,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Die doel van die projek is om ons kultuur te beskerm, asook om dit vir die publiek moontlik te maak om die begraafplaas te besoek. Dankie aan al die AfriForum-lede in Rustenburg wat dit alles moontlik maak. Sonder julle ondersteuning sal ons dit nie kan doen nie. Die hulp en samewerking van Crazy Skip en Rustenburg Therm Guard word ook opreg waardeer,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

AfriForum moedig gemeenskapslede en sakeondernemings aan om vandag nog by AfriForum se Rustenburg-tak betrokke te raak om selfs ’n groter verskil te maak. Bel vir Chris Trytsman by 082 469 2221 of SMS “Rustenburg” na 45351 (R1) vir meer inligting oor die tak, asook om uit te vind hoe om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings