| | |

AfriForum se Rustenburg-tak ondersteun bejaardes tydens inperking

Die AfriForum-tak in Rustenburg het op 11 April 2020 R10 000 se noodsaaklike kruideniersware aan bejaardes van die Kremetartlaan- en Kerkstraat-woonstelblokke geskenk. Ongeveer 300 bejaardes woon in dié woonstelle. Die kruideniersware sluit noodsaaklikhede soos melk, toiletpapier, mieliemeel en blikkieskos in.

“Die bejaardes in ons gemeenskap is afhanklik van hul pensioenfondse en hul kinders se ondersteuning. Die nasionale inperking wat tans in werking is veroorsaak egter dat baie mense ’n verminderde of geen inkomste verdien nie en hulle kan daarom nie hul bejaarde ouers in hierdie krisistyd ondersteun nie. AfriForum se Rustenburg-tak het daarom besluit om die bejaardes tydens die staat van inperking by te staan,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

“Bejaardes word as van dié kwesbaarste groepe beskou ten opsigte van die koronavirus en dit is baie belangrik dat daar na hulle omgesien word. AfriForum sal nie skroom om kwesbare gemeenskappe tydens hierdie krisis by te staan nie om sodoende die negatiewe maatskaplike gevolge van die pandemie so ver as moontlik te minimaliseer,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum moedig gemeenskapslede en sakeondernemings aan om vandag nog by AfriForum se Rustenburg-tak betrokke te raak sodat soortgelyke projekte aangepak kan word. SMS “Rustenburg” na 45351 (R1) of skakel Chris Trytsman by 082 469 2221 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings