| |

AfriForum se Rustenburg-tak skenk kospakkies aan behoeftiges

Die AfriForum-tak in Rustenburg het in samewerking met ander organisasies soos Solidariteit Helpende Hand en die Vryburgers van 20 tot 24 April 2020 ongeveer 70 kospakkies aan behoeftige gesinne in Rustenburg geskenk. Die pakkies is só saamgestel dat dit ’n gesin van vier vir ’n maand lank met noodsaaklike voedsel kan voorsien. Die maandelikse pakkies bestaan uit items soos mieliemeel, boeliebief, rys, pasta, seep, tandepasta, ens.

“Dit gaan werklik swaar met ons mense en die nood word net al groter. Dit is baie hartseer om te sien hoe ons gemeenskappe swaarkry tydens die nasionale inperking. Ons probeer ons bes om vir hierdie mense kos te voorsien en ons sal nie ophou werk terwyl die nood daar is nie,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

“Ons bedank graag vir Helpende Hand wat gesinne in nood identifiseer en seker maak dat hulle hulp ontvang. Dankie ook aan die Vryburgers vir hulle finansiële bydrae en vir die hande wat julle bysit tydens die verspreiding van die voedsel. AfriForum se Rustenburg-tak het tot dusver nagenoeg R35 000 bygedra om gesinne in ons gemeenskap te ondersteun wat tydens die inperking in nood verkeer,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Ons doen ’n beroep op sowel ons lede as die algemene publiek om donasies aan ons taknoodfonds te maak (SMS ‘Nood’ na 32782) of ons by te staan deur voedsel en noodsaaklike items te skenk. Ons maak staat op hierdie skenkings sodat ons kan voortgaan om ons mense te help. Kontak my gerus by 082 469 2221 vir meer inligting,” sluit Trytsman af.

Soortgelyke plasings