| | |

AfriForum se Rustenburg-tak skenk voedselpakke aan behoeftiges

AfriForum se Rustenburg-tak het die afgelope maand in samewerking met Solidariteit Helpende Hand meer as 10 ton voedsel aan 352 behoeftige gesinne voorsien. Die tak het voedselpakke saamgestel om ’n gesin van vier vir ’n maand van noodsaaklike voedsel te voorsien. Dié maandpakke bevat benewens kos soos mieliemeel, boeliebief, pasta, en rys ook noodsaaklike items soos seep, tandepasta en dies meer. Die koste van die projek beloop tans ongeveer R40 000.

“Ons is baie dankbaar dat ons so baie van die behoeftiges in ons gemeenskap met voedsel kan bystaan. Dit word egter moontlik gemaak deur skenkings vanuit die gemeenskap aan ons taknoodhulpfonds. Ons wil werklik elkeen bedank wat tot dusver skenkings gemaak het. Die voedsel wat reeds uitgedeel is, is bewys dat die fonds doeltreffend aangewend word om die nood in die gemeenskap te verlig,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

“Die Rustenburg-tak werk op ’n optimale wyse saam met Solidariteit Helpende Hand om die nood op groot skaal te verlig. Ons stelsels is uiters doeltreffend en ons is baie dankbaar om te sê die meerderheid mense wat in Mei aansoek gedoen het om hulp, is gehelp,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Die tak doen ’n beroep op sowel lede as die publiek om skenkings aan die tak se noodfonds te maak deur “Nood” na 32782 (R1) te SMS. Hulle kan ook voedsel en noodsaaklike produkte skenk. “Buiten die noodfonds maak ons staat op skenkings om mense in nood te help,” sê Trytsman.

Skakel Trytsman by 082 469 2221 vir meer inligting of om voedsel aan AfriForum se Rustenburg-tak te skenk.

Soortgelyke plasings