| | |

AfriForum se Rustenburg-tak vat hande met die Lions Club om winterkoue hok te slaan

Die AfriForum-tak in Rustenburg het op 1 Julie 2020 in samewerking met die Lions Club 120 komberse ter waarde van R10 000 aan behoeftige gesinne in dié dorp geskenk. Die tak het ook in Junie in samewerking met Solidariteit Helpende Hand 3 ton voedsel aan 100 behoeftige gesinne voorsien. Die voedselpakke voorsien ’n gesin van vier met noodsaaklike voedsel vir ’n maand en bevat benewens kos soos mieliemeel, boeliebief, pasta en rys ook noodsaaklike items soos seep en tandepasta.

“Rustenburg is gekenmerk deur matige winters, dus was baie gesinne onkant gevang deur die buitengewone koue winter wat ons vanjaar ervaar. Daarom het ons besluit om ’n kombersprojek van stapel te stuur. Die ondersteuning wat ons van sowel individue as gemeenskapsorganisasies gekry het, is merkwaardig,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

Volgens Trytsman is die tak uiters dankbaar dat hulle in Junie kon voortgaan om so baie behoeftiges in die gemeenskap van kos te voorsien. “Dit word moontlik gemaak deur skenkings vanuit die gemeenskap aan die tak se noodhulpfonds.”

“Ons wil graag ’n groot woord van dank aan die Lions Club gee vir hulle skenking van R5 000 vir die kombersprojek. Dié skenking het ons die nodige hupstoot gegee sodat ons vinnig kon optree en die gemeenskap kon help. Ons wil ook dankie sê aan gemeenskapslede vir die kombersskenkings en donasies. Daarsonder sou die projek nie moontlik gewees het nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Coetzee sê verder die Rustenburg-tak werk op ’n optimale wyse om die nood op groot skaal te verlig. “Ons is dankbaar vir organisasies soos Help4, die Vryburgers en Solidariteit Helpende Hand wat ’n kritieke rol speel om AfriForum se hand te versterk met dié projek.”

Die tak doen ’n beroep op sowel lede as die publiek om skenkings aan die tak se noodfonds te maak deur “Nood” na 32782 (R1) te SMS of om komberse en voedsel te skenk. Skakel Trytsman by 082 469 2221 vir meer inligting of om by dié projekte betrokke te raak.

Soortgelyke plasings