| |

AFRIFORUM SE RUSTENBURG-TAK VERWELKOM AKSIEPLAN VIR VERBETERDE KRAGVOORSIENING

Die AfriForum-tak in Rustenburg verwelkom die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit se aksieplan vir die verbetering van kragvoorsiening na die landelike gebiede aan die suidoostelike buitewyke van die dorp (R24-omgewing). Dit volg ná AfriForum volgehoue druk op die munisipaliteit geplaas het deur skrywes aan sowel die munisipaliteit as Nersa te rig.

Talle inwoners en ondernemings in Rustenburg het by die plaaslike AfriForum-tak oor die deurlopende kragonderbrekings gekla. Sommige inwoners het gesê dat dié probleem al vir jare voortduur. Inwoners van onder meer Waterkloof, Rhenosterfontein, Zuurplaat, Arnoldistad, Kroondal, Waterval, Modderfontein, Boschfontein, en Oorsaak gaan gereeld onder dié kragonderbrekings gebuk.

“Die meeste van die inwoners van dié gebiede woon op kleinhoewes en maak gebruik van boorgate. Kragonderbrekings beïnvloed dié mense se toegang tot skoon water, aangesien die pompe nie tydens die onderbrekings werk nie. Dit veroorsaak ook ’n veiligheidsrisiko omdat elektriese heinings nie werk nie. Ander elektriese toestelle word ook beskadig. Ons verwelkom die aksieplan van die munisipaliteit, maar gaan die inwerkingstelling daarvan egter moniteer aangesien daar nie op die munisipaliteit staatgemaak kan word nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Luidens die aksieplan is die munisipaliteit in die proses om onder meer ’n nuwe 11 kV-kraglyn te bou om die bogenoemde gebiede van krag te voorsien. Volgens die munisipaliteit sal die nuwe lyn teen einde Februarie 2021 voltooi wees, wat verbeterde kragvoorsiening na die areas sal verseker.

AfriForum nooi gemeenskapslede uit om betrokke te raak om sodoende deel van die oplossing te wees: SMS “Rustenburg” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings