AfriForum se Sannieshof-tak stig ’n buurtwag en woeker vir oulaas tydens Maand van Selfstandigheid 2017


Die AfriForum-tak in Sannieshof het ’n buurtwag op die been gebring wat ten doel het om misdaad in dié dorp in samewerking met ander plaaslike veiligheidstrukture te beveg.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland, is die behoefte aan ’n AfriForum-buurtwag tydens ’n onlangse veiligheidsvergadering bepaal.

“Lede van dié AfriForum-buurtwag sal opleiding rakende patrollering, noodhulpbystand en toepaslike wetgewing ontvang. Dit is belangrik dat lede van veiligheidstrukture toegerus en bevoeg is om in noodsituasies bystand te bied en oor die nodige kennis beskik om altyd binne die raamwerk van die wet op te tree,” sê Pretorius.

Die buurtwagbestuur word behartig deur Bennic Badenhorst (voorsitter) en Louise Cordier (sekretaris) en die komiteelede is Annelize de Wet, Elma Callaghan, Ronaldo Callaghan, Driekus Visser, Daniel Coetzee en Reinette Coetzee.
Sannieshof-tak vervang agt verkeerstekens en maak begraafplaas skoon
AfriForum se Sannieshof-tak het gedurende die afgelope maand ’n totaal van agt nuwe stoptekens opgerig as deel van dié burgerregte-organisasie se Maand van Selfstandigheid-veldtog. Daar is baie verkeerstekens in die dorp wat óf weg óf nie duidelik sigbaar is nie en dit maak die strate onveilig. Die plaaslike tak het ’n aantal verkeerstekens bekom en vervang die tekens soos hulle kans kry.
Die tak het ook begin om die begraafplaas skoon te maak. Aangesien die munisipaliteit voortdurend versuim om dit te doen, spring lede van die gemeenskap self in met dié skoonmaakaksie.

“Dit is baie lekker om te sien dat daar inwoners is vir wie ander se veiligheid sowel as die welstand van die dorp belangrik is. Almal wil graag sien dat dit netjies en skoon is waar hul geliefdes te ruste gelê is en as die munisipaliteit dit nie doen nie, doen die inwoners dit sommer self,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Soortgelyke plasings