AfriForum se Sasolburg-tak spring in om dorp skoon te maak


Die AfriForum-tak in Sasolburg het gedurende Desember verskeie skoonmaakaksies geloods met spesifieke fokus op die sny van gras in parke, groen stroke en ander openbare gebiede in Sasolburg en Vaalpark. Die tak het besluit om hierdie projekte aan te pak omdat die agteruitgang van parke en groen stroke nie net ’n slegte beeld van Sasolburg en Vaalpark skep nie, maar ook die ideale ruimte skep vir sowel onwettige storting van rommel as misdaadaktiwiteite.

Gedeeltes waar daar skoongemaak is sluit die gebiede by Ons Gryse Jeug Ouetehuis, Baddrifstraat en die groen stroke in Koebergstraat en Nuwekloofstraat in. Daar is ook gras gesny in die omgewing van Waterkantstraat, Mosegastraat en Lombaardstraat (Vaalpark). Die tak gaan intussen voort met hierdie en soortgelyke projekte gedurende Desember.

“Die skoonmaak van ons groen stroke en parke is ’n prioriteit vir die tak en ons wil dankie sê aan elke vrywilliger wat hul tyd opgeoffer het om ’n verskil in Sasolburg en Vaalpark te maak. Ons moedig die publiek aan om betrokke te raak by al die skoonmaakaksies wat deur die tak geloods word,” sê Stephen Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
“Die tak kan egter meer bereik met meer mannekrag en daar word ’n beroep gedoen op vrywilligers wat betrokke wil raak om asseblief kontak te maak met die takbestuur,” vra Nel.

SMS “Sasolburg” na 45266 (R1) om by die Sasolburg-tak se skoonmaakinisiatiewe betrokke te raak.

Soortgelyke plasings