|

AFRIFORUM SE SPRINGS-BUURTWAG BEKAMP MISDAAD

Die AfriForum-buurtwag in Springs het die afgelope naweek saam met veiligheidsrolspelers aan veiligheidsaksies deelgeneem waartydens verskeie inhegtenisnames uitgevoer is.

Die buurtwag het Vrydagaand saam met die SAPD en GPF hoësigbaarheidsaksies gehou en op onwettige sjebiens en drankwinkels afgekom. Inhegtenisnames is uitgevoer vir die onwettige handel in drank en twee onwettige immigrante van Malawi en Mosambiek is ook in hegtenis geneem.

Die buurtwag het die Saterdagoggend ’n werwingsaksie gehou om bewusmaking te skep toe die buurtwag en die GPF ’n versoek van die SAPD ontvang het om hulp te verleen om ’n vermiste kind op te spoor. Die Springs-buurtwag en die GPF het saamgewerk en die gebied gefynkam en die kind is kort daarna in ’n parkie saam met ’n man gevind. Die SAPD was ook vinnig op die toneel en mediese hulp is ontbied om die kind te ondersoek. Die man is weggeneem vir verdere ondersoek.

’n Gesamentlike operasie met die SAPD en GPF is dié aand gehou nadat inligting van die gemeenskap ontvang is oor ’n moontlike dwelmhuis. Die drie rolspelers het vinnig bymekaar gekom, ’n plan opgestel en daar is op 63 potte dagga beslag gelê. Een persoon is ook in hegtenis geneem vir die onwettige handel in dwelms.

“Ons het ’n baie besige naweek gehad waar daar weereens bewys is dat ons kan saamstaan. Al verskil ons soms, is misdaad ons almal se gemeenskaplike probleem. Ons sit egter ons verskille opsy om die gemeenskap te dien,” sê Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.

“Dit verg goeie verhoudings en respek vir mekaar om hierdie tipe samewerking in plek te kry en dit is goed om te sien dat die buurtwag op die SAPD kan staatmaak,” sê Morné Greyling, leier van AfriForum se Springs-buurtwag.

“’n Mens kan sien dat hierdie drie rolspelers werklik volle vertroue in mekaar het. Dit het tot gevolg dat elkeen sy rol ken en verstaan en hul die gemeenskap beter kan ondersteun,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir die noordstreek.

Soortgelyke plasings